Hierdie module handel baie sterk oor roeping, gehoorsaamheid, gawes en bediening.
Ons hanteer dissipelskap beginsels vanuit die OT. Dit is ook bedoel om mense bloot te stel aan God se storie met die mens vanuit die OT. Daar word aangetoon hoe God van die begin af mense roep om Hom te volg as dissipels (mense wat Hom volg en van Hom leer). Ons fokus ook baie op Godsbeeld, wie God werklik is in sy karakter soos Hy Homself openbaar het. Dit het ook ten doel om mense te help om die bedoeling van die Bybel beter te verstaan en dus met die regte verwagting na die Woord te kom (maw nie om wetenskaplike en historiese korrektheid in alle opsigte van die Bybel te verwag nie, maar dit te sien as die bekendmaking van God en sy wil vir ons lewe).
PDF/Kindle - R120
Hardeband - R180
Inleiding
In hierdie volgende been van ons dissipelskap proses, wil ons jou graag
verder op die pad van navolging van Christus begelei. In Modules 1 en 2
het ons baie aandag aan jou persoonlike verhouding met God gegee. In Module 3 wil ons jou graag help om jou eie unieke roeping in God se koninkryk beter te verstaan en ook te begin uitleef (as jy dit nog nie doen nie).
Die pad van dissipelskap begin altyd met die uitnodiging om Hom te volg. Daardie eerste tyd van navolging is dan ‘n tyd waarin ons net volg, kyk, leer, luister, oplet, vra vrae en sit aan sy voete. Dit is presies ook wat die dissipels gedoen het vir drie en ‘n half jaar lank. Gedurende hierdie tyd gee die Here wel soms vir ons kleiner werkies om te doen (soos Hy ook vir sy dissipels gegee het). Ons kan dit sien as in-diens-opleiding. Daar sal egter ‘n tyd kom waar ons al duideliker sal begin hoor: “Soos die Vader my gestuur het, stuur Ek julle ook.” (Joh. 20:21). Ons sal probeer verduidelik wat dit vandag vir ons beteken in ons eie leefwêreld. Ek glo as ons dit reg verstaan, is dit baie bevrydend en bemagtigend in ons lewe as God se verteenwoordigers.
Ons gaan begin deur te kyk na die pad wat God met Israel in die Ou Testament geloop het. In die Ou Testament is daar alreeds baie waardevolle beginsels van dissipelskap opgesluit. Ons leer ook baie van roeping en dienswerk deur te kyk na hoe God toe al mense geroep en gebruik het. Ons sien ook alreeds in die Ou Testament dat die hart van
dissipelskap uit 'n intieme verhouding tussen God en mens bestaan, 'n
verhouding waarin Hy ons God wil wees en ons uitnooi om sy gehoorsame kinders te wees.
Die laaste paar sessies gesels ons oor hoe ons. Meer duidelikheid kan kry oor ons eie roeping as God se verteenwoordigers in die wêreld.