Een van die baie effektiewe maniere van dissipelskap wat in die kerk voor die Reformasie ontwikkel is, is die proses van geestelike begeleiding (spiritual direction). Ongelukkig het baie van die wysheid wat sodoende deur die kerk opgedoen is, mettertyd verlore geraak. Vandag is daar weer ’n herontdekking van die waarde daarvan en word geestelike begeleiers (spiritual directors), weer oral deur kerke opgelei.
In die proses van geestelike begeleiding word daar van die veronderstelling uitgegaan dat God op pad is met elke mens. Elkeen van ons is op ’n reis, ons is nie maar net toevallig waar ons is nie. Op hierdie reis is God besig om in ons lewens te werk en vir ons te probeer duidelik maak wat sy wil vir ons lewens is. Deur middel van geestelike begeleiding word mense dan begelei om te leer onderskei waarmee God in hulle lewens besig is. Die kuns van dissipelskap, soos ek dit sien, is dan ook niks anders as juis dit nie, om te leer onderskei waarmee God besig is in jou lewe.
Met hierdie modules van dissipelskap, wil ons dan mense leer om hierdie vaardigheid te ontwikkel, om te kan raaksien en onderskei waarmee God in hulle lewens besig is. Wanneer mense leer om dit te doen, begin die lewe skielik meer sin te maak en begin mense ook hulleself en hulle eie rol hier op aarde beter verstaan. Om hiertoe te kan kom, is dit natuurlik van wesenlike belang om in ‘n lewende verhouding met God die Vader te leef van dag tot dag.
‘n Verhouding waarin en waardeur ek in toenemende mate God se Vaderliefde, sy goedheid, sy genade, sy omgee, sy versorging, sy troos, sy betrokkenheid by my lewe en sy leiding van dag tot dag leer ken en ervaar. Hierdie verhouding neem in aanvang wanneer ek gehoor gee aan Jesus se uitnodiging: “Volg my”. Ek word uitgenooi om, soos sy eerste dissipels, `n pad saam met Hom te stap. Sy eerste dissipels het gehoor gegee aan die roeping deur alles net so te los en Hom letterlik te volg. Gedurende hierdie tyd het hulle nie baie vir hom gedoen nie. Hulle het Hom net gevolg, oral waar Hy gegaan het. Terwyl hulle dit gedoen het, het hulle Hom dopgehou, na Hom geluister, van Hom geleer, Hom leer ken, tyd met Hom spandeer, met Hom gesels, gekyk wat Hy doen en hoe Hy dit doen. So is hulle “opgelei” om mense soos Hy te word, mense wat met dieselfde waardes en oortuigings as Hy leef. Na ongeveer drie jaar plus se opleiding, het Jesus hulle uitgestuur om uit te gaan en nou ook van ander mense dissipels te gaan maak, of ons kan ook sê om ander te gaan begelei om op dieselfde manier te leer lewe.
Ek glo van harte dat ons pad van dissipelskap vandag nog dieselfde roete volg. Wanneer ons Hom begin volg, moet ons ook net eers volg, luister, dophou, waarneem, gesels, tyd spandeer, leer en leer en nogmaals leer. Ons moet sommer net by Hom wees, Hom leer ken en bewonder, leer hoe Hy “dink”, hoe Hy mense sien, hoe Hy die wêreld sien, wat sy waardes en oortuigings is – sodat dit alles ook ons s’n kan word. Dis al manier waarop ons gaan leer onderskei waarmee God besig is, ook waarmee Hy in my eie lewe besig is. As ons dit getrou doen, sal ons ook op `n dag hoor: “soos die Vader my gestuur het, stuur ek ook nou vir jou”. Om sommer net uit te gaan en vir Hom te begin werk omdat jy graag “vir die Here wil werk”, voordat jy meer duidelikheid het oor wat jou eie “gestuur wees” behels, kan vir jou baie probleme bring en selfs groot seerkry veroorsaak. Iemand wat geleer het om in ‘n Dissipelskap verhouding met die Vader te leef, hoef nie te probeer om “vir die Here te werk” nie. God sal spontaan deur so ‘n persoon werk, waar hy of sy hulle ook al bevind. Hulle manier van lewe word dan ‘n bediening. Dit kan dan wel ook gebeur dat die Vader jou uitstuur om jou gawes op ‘n spesifieke plek of terrein te gaan uitleef. Dit sal jy egter net van bewus word as jy eers geleer het om na Hom te luister van dag tot dag.
Wat hier beskryf word, is dus nie regtig 'n“kursus” nie. Dit gaan eerder oor ʼn leefwyse wat aangeleer kan word in navolging van Christus. Mense wat dit doen, merk dan ook dikwels op: “Maar hierdie is nie 'n kursus nie, dit gaan oor ʼn manier van lewe.” Dit kan ook beskryf word as 'n reis. Elkeen van ons is op reis deur die lewe. Ons kan die reis op baie verskillende maniere aanpak. Die manier waarop Christus ons uitnooi om die reis te onderneem, is deur middel van navolging van Christus, of dan deur ʼn lewe van dissipelskap. Indien jy belang stel om jou reis op die manier te onderneem, kan jy gerus kyk hoe hierdie modules van die “Wese van Dissipelskap” jou daarmee kan help.
Ek sien dit so dat elke mens geskep is om as ‘n verteenwoordiger, en daarom 'n leerling of dissipel, van die lewende God te leef. Ongelukkig het baie mense as gevolg van baie faktore vergeet wie hulle werklik is (verteenwoordigers of dissipels van God). Daarom wil ek graag deur middel van die materiaal mense probeer help om weer te verstaan wie hulle is en wat dit inhou om as leerling van God te leef.
Die inhoud van die materiaal is grootliks gebore uit my eie reis van dissipelskap en lesse wat ek self by die Here geleer het. Dit het natuurlik ook heelwat leeswerk ingesluit. Ek maak dus nie aanspraak daarop dat alles wat ek deel “oorspronklik” is nie. Ek het by baie groot leermeesters geleer en gee ook erkenning aan hulle in die materiaal.
Dissipelskap is of kan nooit “afgehandel” word nie. Ek is nog steeds, elke dag, besig om meer te leer en te ontdek.
Ek het die materiaal dus in die afgelope tyd weer hersien. Aanvanklik was daar sewe modules. Dit blyk egter dat baie min mense by al sewe modules uitkom. Vir baie mense hou die reis te lank aan. Ek het daarom besluit om die materiaal in te kort op 'n manier wat nie regtig iets wesenlik weglaat van dit wat oorspronklik deel daarvan was nie.
Doen gerus by my navraag as daar onsekerheid is.
Hierdie is nie net “nog ‘n “kursus” nie, maar riglyne vir ‘n lewende verhouding met God, ons Vader: Hierdie dissipelskap materiaal, is en was nooit bedoel om net nog ‘n kursus te wees wat ‘n mens op akademiese wyse kan deurwerk en agterna kan sê: “Ek het so en so ‘n kursus gedoen” nie. Die bedoeling is om mense te begelei daartoe om in ‘n egte verhouding van navolging of dissipelskap, met God die Vader te leef. Dit kan net iets beteken en ’n verskil maak as ‘n mens van week tot week met die materiaal by God gaan stil word en werklik leer om te onderskei waarmee God besig is in jou lewe. Dan alleen kan jy ook leer om na die Vader te luister en te doen wat Hy van jou vra.
Die materiaal is dus so opgestel dat dit ’n definitiewe verbintenis vra rondom persoonlike voorbereiding. As mense “onvoorbereid” by die groepe opdaag en verwag dat iemand anders vir hulle moet lering gee, kan dit nooit werk nie. Die gedagte is juis dat almal saam kom om te deel wat hulle van God geleer het.
Diegene wat weens omstandighede nie deel van 'n groep kan wees nie, kan dit ook op hulle eie deurwerk.
Ek kan maar net iets deel van dit wat onsself in ons eie gemeente ervaar het, en ook die getuienisse van ‘n paar mense insluit sodat hulleself kan sê wat dit vir hulle beteken het.
In ons gemeente het ons o.a. die volgende ervaar:
Mense hoef nie dadelik te vas te maak vir al vier modules nie. Nooi hulle net uit vir die eerste jaar, maar stel dit duidelik dat dit prioriteit moet geniet binne die jaar. Hulle moet bereid wees om ander dinge opsy te skuif ter wille daarvan, anders gaan dit nie veel help nie. As mense eers deel geword het van die proses, het hulle gewoonlik geen probleem om te commit vir die volgende modules nie.
Hoe lank dit sal neem om al vier modules deur te werk, sal van elke groep se tempo afhang. Ervaring wys dat sommige groepe daarvan hou om elke week 'n Sessie te doen, maar sommige groepe wil langer stilstaan by sommige sessies.
Daar is 24 Sessies in elke module, so dit is teoreties moontlik om twee modules per jaar te doen. Die praktyk wys egter dat dit nie regtig moontlik is nie. As 'n mens skoolvakansies en ander onderbrekings in gemeentes se programme in ag neem, vat dit gewoonlik langer. Daar is egter geen rede om haastig te wees nie. Die meeste groepe geniet dit end uit om met die materiaal besig te bly, ongeag hoe lank dit neem.
Sommige mense vra van tyd tot tyd: “Het jy nie ‘n korter program wat ons minder tyd sal vat nie?” Ek dink dit is juis een van die grootste probleme wat die kerk het, dat mense te maklik “kortpaaie” soek rondom die geestelike reis, omdat die wereld daarbuite oral kortpaai vir mense aanbied.
Die waarheid is dat daar GEEN KORTPAAIE in dissipelskap is nie. Mens word nie ‘n dissipel deur ‘n paar belangrike beginsels net teoreties “baas te raak” nie. Dit gaan oor die aanleer van ‘n manier van lewe wat eintlik vir meeste mense baie vreemd is; dit vra ook baie genesing, verlossing en groei. Dit alles neem TYD, rustige en geduldige spandeer van tyd met God. Meer detail oor die praktiese verloop word gegee onder FAQ.
Dit is veral van groot nut vir tieners wat graag meer wil leer oor ʼn pad van dissipelskap. Ons ervaring is dat tieners wat dit met oorgawe en toewyding doen, baie daaruit ontvang en baie groei in hulle geestelike lewe beleef. Daar is ook gemeentes wat dit gebruik as kategese materiaal. Daar is dan ook drie modules vir tieners. Dit kan oor drie jaar in die hoerskool gedoen word.
In die tienermateriaal het ek probeer om die hart van dissipelskap raak te vat, maar dan ook op die manier wat ek as tiener dit graag sou wou hoor. Dit wat ek glo vir tieners moontlik kan opgewonde maak oor ‘n reis of lewe saam met God, eerder as om hulle bang te maak vir die moontlikheid van “hel toe gaan”.
Elkeen van die modules het 20 Sessies, wat gerieflik binne een jaar ingepas kan word.
Om hierdie te bestel, skryf vir ons net op ons kontakblad met die titel van hierdie material.
Op die oomblik is daar materiaal vir ongeveer twee jaar. Ouers kan dit met laerskool kinders by die huis doen. Dit kan ook gebruik word as sondagskool of kategese materiaal. Die gedagte is dat dit primêr die ouers se verantwoordelikheid is om hulle kinders op geestelike vlak te begelei. Hierdie materiaal gee vir die ouer gereedskap wat hulle kan gebruik om dit meer effektief te kan doen. Daar word sterk gefokus op wie God is en op Bybelse waardes wat gesinne kan aanneem as hulle eie. Die gesin kan dan ook saamkom met 3 – 5 ander gesinne wat dit ook doen as 'n gesin-sel. Elke gesin deel wat hulle ontdek het. Daar is dan ook ’n kreatiewe aktiwiteit wat hulle almal (ouers en kinders saam) verder gesels oor die materiaal. Die mense wat dit doen vind dit baie verrykend en bevredigend, beide ouers en kinders is baie positief daaroor.
Om hierdie te bestel, skryf vir ons net op ons kontakblad met die titel van hierdie material.
Benewens die kernmateriaal bied ons ook aanvullende boekies wat jou help om dieper te groei in jou verhouding met God. Hierdie hulpmiddels is prakties, Bybels gegrond en geskryf om jou te begelei in stilword, luister en gebed — hetsy individueel of in ’n groep.
Om hierdie te bestel, skryf vir ons net op ons kontakblad met die titel van hierdie material.