In hierdie module praat ons oor die vestiging van ons identiteit as kinders van die Here, asook oor die stryd tussen die vlees en die Gees.
Ons gee veral ook aandag aan hoe God ons verander om al meer soos Hy te word. Wanneer mense leer om te onderskei wat God besig is om in hulle lewens te doen, vra dit gehoorsaamheid en sal dit lei tot gedragsverandering.
Baie belangrik: Ons gebruik ook in die eerste twee modules, Jesus se lewe (soos ons dit in die Johannes evangelie leer ken) as die volmaakte voorbeeld van die lewe van `n dissipel. Ons fokus dus deurgaans op die beginsels wat Jesus geleer en geleef het en kyk hoe dit ons lewens as dissipels raak.
PDF/Kindle - R120
Hardeband - R180
Inleiding
Hierdie is die tweede module van die “Wese van Dissipelskap-reeks”. Ek
hoop van harte dat jy Module 1 geniet het en dat dit vir jou tot seën was.
In hierdie module is ons fokus hoofsaaklik op ons identiteit as kinders van God. Ek is oortuig daarvan dat die meeste emosionele probleme wat mense het, is as gevolg van die feit dat hulle soek na 'n identiteit op
ander plekke en maniere as om dit in God te vind. Die feit is dat ons almal geskep is as verteenwoordigers van God. Dit is ons primêre identiteit en die enigste identiteit waarin ons werklik vervulling en vreugde kan vind. Om elders daarna te soek, is net 'n gejaag na wind.
Om God te kan verteenwoordig, moet ons natuurlik verander word om meer soos Hy te wees. Dit kan ons ongelukkig nie self regkry nie, daarom is ons op die reis van dissipelskap. Dit is 'n pad waar ons by Homself leer wat nodig is vir ons sodat ons verander kan word. Let daarop dat ek sê: "verander word", want dit is Hy wat ons verander namate ons gehoor gee aan sy roeping om Hom te volg. Wanneer ons ons lewens weer stel onder sy heerskappy, dan word ons deur die Gees verander na die beeld van Christus (2 Kor. 3:18).
Ons gee ook baie aandag aan hoe ons kan leer om negatiewe gedagtes
en emosies te hanteer. Ons kyk daarna vanuit verskillende hoeke. Jy mag selfs voel dat daar te veel herhaling is. Tog voel ek dit is baie belangrik, want die meeste mense sukkel daarmee. Om dus op verskillende maniere daarna te kyk en te soek vir maniere waarop dit hanteer kan word, kan net lei tot groter insig. Natuurlik is insig alleen ook nie genoeg nie. Daarom wil ek jou baie sterk aanmoedig om dit wat ons aanbeveel in te oefen sodat dit deel van jou lewe kan word.
Ons begin elke Sessie op dieselfde wyse as in Module 1. Ek vra egter nie
weer aan die begin van elke sessie dat die groep nou eers weer deur die
Psalm van die week moet bid nie. Ek neem aan dat almal dit nou al weet
en dit sal doen.
Baie seën toegebid vir hierdie fase van die proses. Mag God voortgaan om jou lewe heel te maak en op te rig as ware dissipel van Jesus Christus
tot eer van God die Vader!