In hierdie module begin ons om mense te leer om meer meditatief te luister na die Skrif.
Hierdie is deurgaans ’n belangrike aksent in al die modules. Daarsonder is dit bykans onmoontlik om te leer onderskei waarmee God besig is. Ons gee dan ook aandag aan ’n aantal kernsake wat veral belangrik is as mens nog aan die begin van jou geestelike reis is. Ons praat nou hier van die “begin van die reis”, maar ons ervaring is dat daar baie van ons lidmate is wat al jare lank kinders van God is, maar in terme van hulle geestelike reis eintlik nog altyd aan die begin is. Die rede hiervoor is gewoonlik juis omdat die proses van dissipelskap of geestelike begeleiding tot nou toe in hulle lewens ontbreek het.
Hierdie module handel dus o.a. oor die ontslae raak van maskers in jou geestelike lewe, die hantering van seerkry gebeure uit jou verlede, die versadiging van ons dors na geluk en vrede.
PDF/Kindle - R120
Hardeband - R180
Inleiding
Een van die baie effektiewe maniere van dissipelskap wat in die kerk voor die Reformasie ontwikkel is, is die proses van geestelike begeleiding (spiritual direction). Ongelukkig het baie van die wysheid wat sodoende deur die kerk opgedoen is, mebertyd verlore geraak. Vandag is daar weer ʼn herontdekking van die waarde daarvan en word geestelike begeleiers (spiritual directors) weer oral deur kerke opgelei.
In die proses van geestelike begeleiding word daar van die veronderstelling uitgegaan dat God op pad is met elke mens. Elkeen van ons is op ʼn reis, ons is nie maar net toevallig waar ons is nie. Op hierdie reis is God besig om in ons lewens te werk en vir ons te probeer duidelik maak wat sy wil vir ons lewens is. Deur middel van geestelike begeleiding word mense dan begelei om te leer onderskei waarmee God besig is in hulle lewens. Die kuns van dissipelskap, soos ek dit sien, is dan ook niks anders as juis dit nie, om te leer onderskei waarmee God besig is in jou lewe. Die een boodskap wat baie sterk dwarsdeur die hele Bybel uitstaan, is dat dit op God se hart is om vir ons 'n God te wees; en dat Hy begeer dat ons sy gehoorsame kinders sal wees. Volgens my verstaan daarvan, is dit niks anders as 'n dissipelskap-verhouding nie. Hy is God (die Leermeester) en ons is sy kinders (leerlinge of dissipels).
Met hierdie modules oor dissipelskap, wil ek graag mede gelowiges begelei om die kuns te ontwikkel om te kan raaksien en onderskei waarmee God in hulle lewens besig is. Of anders gestel, om te leer hoe om as sy leerlinge (dissipels) te leef. Wanneer mense leer om dit te doen, begin die lewe al hoe meer sin maak en begin mense ook hulleself en hulle eie rol hier op aarde beter verstaan. Om hiertoe te kan kom, is dit natuurlik van wesenlike belang om van dag tot dag in ʼn lewende verhouding met God die Vader te leef – 'n verhouding waarin en waardeur ek in toenemende mate God se vaderliefde, sy goedheid, sy genade, sy omgee, sy versorging, sy troos, sy betrokkenheid by my lewe en sy leiding van dag tot dag leer ken en ervaar.
Hierdie verhouding neem ‘n aanvang wanneer ek gehoor gee aan Jesus se uitnodiging: “Volg my”. Ek word uitgenooi om, soos sy eerste dissipels, Hom van oomblik tot oomblik te volg. Sy eerste dissipels het gehoor gegee aan die roeping deur alles net so te los en Hom leberlik te volg. Gedurende hierdie tyd het hulle nie baie vir hom gedoen nie. Hulle het Hom net gevolg, oral waar Hy gegaan het. Terwyl hulle dit gedoen het, het hulle Hom dopgehou, na Hom geluister, van Hom geleer, Hom leer ken, tyd met Hom spandeer, met Hom gesels, gekyk wat Hy doen en hoe Hy dit doen. So is hulle “opgelei” om mense word wat soos Hy geleef het, mense wat met dieselfde waardes en oortuigings as Hy leef. Na ongeveer drie jaar plus se opleiding, het Jesus hulle uitgestuur om uit te gaan en nou ook van ander mense dissipels te gaan maak, of ons kan ook sê om ander te gaan begelei om op dieselfde manier te leer lewe.
Ek glo van harte dat ons pad van dissipelskap vandag nog dieselfde roete volg. Wanneer ons Hom begin volg, moet ons ook net eers volg, luister, dophou, waarneem, gesels, tyd spandeer, leer en leer en nogmaals leer. Ons moet sommer net by Hom wees, Hom leer ken en bewonder, leer hoe Hy “dink”, hoe Hy mense sien, hoe Hy die wêreld sien, wat sy waardes en oortuigings is – sodat dit alles ook ons s’n kan word. Dis al manier waarop ons gaan leer onderskei waarmee God besig is, ook waarmee Hy in my eie lewe besig is. Om te dink dat die Christelike lewe net gaan daaroor dat ek sekerheid sal kry dat ek "eendag hemel toe sal gaan" en vir die res maar kan aangaan met my lewe soos dit my pas, is 'n baie groot misopvalng van God se bedoeling vir ons hier op aarde.
Dit is belangrik om te verstaan dat Jesus al sy kinders roep tot ʼn lewe van dissipelskap, van navolging, van gehoorsaamheid. Dit behoort van die begin af duidelik te wees dat dissipelskap nie net ʼn kursus is nie, dit is ʼn leefwyse wat ʼn hoë vlak van “commitment” of te wel toewyding vra. As Jesus mense roep om Hom te volg as sy dissipels, vra Hy dat hulle die kruis sal opneem (sterf aan eie belange), hulleself sal verloën en Hom volg. Vir iemand wat dit doen, wag daar ʼn nuwe manier van lewe, 'n lewe soos wat Jesus self aan ons kom demonstreer het, 'n lewe wat gelei word vanuit ʼn inTeme verhouding met die Vader. Ons neem dan ook die lewe van Jesus, veral soos ons dit leer ken in die evangelie volgens Johannes, as uitgangspunt vir die lewe van 'n dissipel.
Hieruit behoort dit ook duidelik te wees waarom daar gevra moet word vir ‘n verbintenis van diegene wat belang stel om die pad van dissipelskap te loop. Dit is 'n pad wat bedoel is vir hulle wat tot die oortuiging gekom het het dat niks anders belangriker is as 'n daaglikse navolging van Christus nie. Vir sulke mense wag daar groot geestelike verdieping en 'n sinvolle manier van lewe. Daar is veral twee belones in die Woord wat vir hierdie mense bewaarheid word, nl.:
• En julle sal my soek en vind as julle na my vra met julle hele hart.” (Jer. 29 :13, Ou Afrikaanse Vertaling O.A.V.).
• Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.” (Jak. 4 :8, O.A.V.).
Loop die pad saam met ander gelowiges
Ek wil sterk aanbeveel dat jy alles wat hier volg nie maar net op jou eie deurwerk of deurlees soos 'n boek nie. Dissipelskap is 'n pad wat 'n mens saam met ander gelowiges stap. Kry 'nʼn paar vriende bymekaar en doen dit saam as groep. Uit dit wat julle met mekaar gaan deel, gaan God soveel méér vir jou leer as wat jy op jou eie kan leer. Wanneer jy dit klaar saam met vriende deurgewerk het, kan jy weer twee of drie nuwe mense kry en dit weer saam met hulle deurgaan terwyl jy as groepleier optree. Die ervaring van al ons groepleiers is dat dit die tweede keer (wanneer hulle as groepleiers optree), amper nog meer beteken as die eerste keer. Ek besef daar is mense wat nie hou daarvan om in kleingroepe te wees en openlik oor hulle lewens te praat nie. Indien jy so iemand is, is daar niks wat jou verhinder om die materiaal op jou eie deur te werk nie. My gebed is dat dit wat ons hier met jou deel, ook vir jou sal lei tot ʼn nuwe vars omgang met God self. As jy alles gaan toepas waaroor ons hier gesels, gaan jy begin met ʼn proses van dissipelskap in jou eie lewe wat nooit op hierdie aarde eindig nie. Hierdie materiaal is net bedoel om jou te help om op die pad te kom. Dissipelskap is egter ʼn proses wat lewenslank duur, want hoe kan ons ooit hier op aarde op die punt kom waar ons sal kan sê: “Nou ken ek vir God deur en deur. Nou het ek niks meer om te leer nie”? Om 'n dissipel te wees beteken immers om elke dag by die voete van die Meester te sit, sodat ek Elke dag van Hom kan leer.
Dit hou nooit op nie!