
Ek het my bediening in 1984 begin in Zambië in 'n sinodale pos vir die jeug. In daardie tyd was daar baie toegewyde jongmense wat alreeds hoërskool voltooi het, maar nog nie kon werk kry of verder studeer nie. Ek het dus 'n aantal van hulle uitgenooi om my "mede-werkers" te word. Dit het natuurlik behels dat ek hulle eers toegerus het met beide kennis en vaardighede wat nodig sou wees. Daar het ek alreeds ontdek hoeveel makliker die pad word as 'n mens doen wat Jesus ons beveel het om te doen, naamlik om dissipels te maak en nie alles self te probeer doen nie.
Aan die einde van 1991 het ek 'n beroep aanvaar na Port Elizabeth as studenteleraar by die destydse Universiteit van Port Elizabeth. Ek was nie baie lank daar nie, toe het ek weer baie duidelik ervaar dat die Here van my vra om "dissipels te maak". Dit was die begin van my meer gedefinieerde reis rondom dissipelskap. Aanvanklik het ek van week tot week materiaal voorberei wat ons dan in 'n kleingroep saam deurgewerk het.
Die fokus was van die begin af op ontdekking en nie om self lering te gee nie. Ek wou eerder hê dat die jongmense sal ontdek wat dit inhou om regtig leerlinge van Christus te word om sodoende by Hom self te kan hoor en leer wat hulle nodig het om te hoor en te leer. Dit was nie lank voordat die een groep waarmee ek begin het, spontaan uitgebrei het na 'n paar groepe nie. Dit was nie nodig om daarop klem te lê dat die studente moet uitgaan om met ander te gaan deel wat hulle geleer het nie. Ek het daar ontdek dat as mense werklik by God self leer en hoor wat nodig is, hulle ook spontaan daaroor begin praat.
Later het studente wat die kampus verlaat en op ander dorpe en stede gaan werk het, my gekontak en gevra vir die materiaal. Hulle wou graag groepe begin daar waar hulle hulle nou bevind het. So het dit begin versprei na ander gemeentes en dorpe.
Dit het dus ook nie net gebly by studente nie, maar na 'n paar jaar was daar heelwat gemeentes wat die materiaal in hulle kleingroepe begin gebruik het. Daar is vandag nog altyd 'n hele klomp gemeentes wat die materiaal gebruik.
In my eie reis met God, het ek natuurlik ook deurlopend baie geleer. Daarom het ek gereeld die modules hersien en herskryf. Dit het egter so 'n stadium bereik dat ek oortuig geraak het dat dit nodig is vir 'n groter proses van hersiening, herformulering en ook inkorting van die materiaal. Vanaf 2026 sal dus net die hersiene modules beskikbaar wees. Gemeentes wat alreeds deur die eerste paar modules gewerk het en graag die reis met die bestaande modules wil voltooi, sal dit wel kan doen.
Ons hoor graag van jou. Reik uit — kom stap saam.