
Hierdie webblad Is bedoel vir mense wat graag meer wil weet of leer oor dissipelskap. Ongelukkig is daar by mense nogal heelwat verwarring waaroor dit in dissipelskap regtig gaan. Daar is heelwat dissipelskap programme of kursusse wat eerder gaan oor evangelisasie as oor dissipelskap. Die klem val dan daarop om mense toe te rus om ander mense "na die Here toe te lei" of om aan hulle te verduidelik hoe om kinders van God te word. Dit is nie waaroor dissipelskap regtig gaan nie.
Die woord dissipel is dieselfde as leerling. Dit dui daarop dat ons leerlinge of dan dissipels, van iemand is. Hier gaan dit daaroor dat ons leerlinge van Christus, of dan van God self, is. Dit is die doel waarvoor Hy ons geskep het, om in afhanklikheid van Hom as leerlinge van Hom te leer. Wanneer dit gebeur, verryk Hy ons lewens met sy kennis, met sy liefde, met sy goedheid en sorg op veelvoudige maniere. Dit lei in alle opsigte tot 'n lewe wat baie meer vreugde, vervulling en vrede inhou, selfs al gaan dit nie net altyd goed en voor die wind nie.
Ons klem val dus daarop om mense te begelei om te leer leef met hulle oë en ore gerig op God, met die doel om van Hom te leer. Dit is basies dieselfde manier van lewe wat Jesus aan ons kom demonstreer het, en ook van getuig het as Hy sê dat Hy sonder die Vader niks doen nie (Joh. 5:19-20) en ook niks sê wat Hy nie by die Vader gehoor het nie.
'n Reis wat jy saam met ander kan begin aan die hand van vier modules wat handel oor disspelskap. Hierdie reeks word genoem: "Die Wese van Dissipelskap". Ons noem dit 'n reis, omdat dit jou voorstel aan 'n manier van lewe. Die klem is dus nie op die Inwin van Kennis oor dissipelskap nie, maar oor hoe lyk die lewe van 'n dissipel van dag tot dag.
Om saam met 'n paar vriende deur die vier modules te werk, kan enigiets van drie tot ses jaar neem. Dit word grootliks bepaal deur julle eie tempo.
Die tweede manier waarop jy meer vertroud kan word met die reis van dissipelskap, is deur die aankoop van verskeie boeke wat almal handel oor die lewe van 'n dissipel. Daar is 'n verskeidenheid van titels waarna jy kan kyk. Sommige van die boeke is ook ingedeel in 52 weke sodat ook as 'n tipe geestelike dagboek vir jou stiltetyd gebruik kan word.
Jy kan by die lys van boeke verder gaan lees waaroor elke boek gaan en dan iets koop waaroor jy graag meer te wete wil kom, of van wil leer.
Ons hoor graag van jou. Reik uit — kom stap saam.