Vrae wat gereeld gevra word (FAQ):
Gaan gerus deur ons mees gereelde vra wat ons vanaf mense ontvang. Ons vertrou dit sal jou help.
Kan ons op ons eie begin? (sonder iemand wat dit alreeds gedoen het).
Ja, die materiaal is so opgestel dat die deurwerk daarvan nie afhanklik is van ’n “kundige groepleier” nie. Dit gaan juis daaroor dat almal wat deel is van die self moet stil word by die Here met die materiaal. Dit gaan daaroor dat elkeen vooraf by God moet uitkom en leer onderskei wat op sy hart vir jou lewe is. Wanneer die groep dan bymekaar kom, deel almal met mekaar wat hulle van God gehoor en geleer het. Die sogenaamde “leier” fassiliteer net die gesprek en moenie alleen praat nie.
Kan ons die materiaal in ons selgroepe gebruik as selmateriaal?
Eintlik is dit nie bedoel om as selmateriaal gebruik te word nie. Dit vra ’n hoër vlak van verbintenis en voorbereiding as wat selgroepe vra. Mense is gewoond om net op te daag by ’n sel byeenkoms, want iemand anders het voorberei en sal die groep dan lei. Dis ook maklik om ’n sel byeenkoms te mis, sonder dat jy regtig “agter raak”. Met hierdie materiaal is dit anders. Elkeen moet goed voorberei, eintlik gaan stil word by God met die materiaal en dan kom deel wat hulle gehoor en ontvang het. Die leier bied nie die sessie aan nie, maar fasiliteer net die gesprek. So, as ’n selgroep gewillig is om hierdie vlak van verbintenis met mekaar en God aan te gaan, sou hulle dit met vrug kan gebruik. Andersins, sal dit hulle dalk frustreer, want hulle sal voel daar is “te veel” om te doen. Dit sal ook glad nie werk as daar kinders deel van die sel is nie.
Moet elkeen sy/haar eie handleiding hê?
Ja beslis, dit kan nie op ’n ander manier werk nie. Dit gaan weereens daaroor dat almal met die materiaal moet gaan stil word in voorbereiding vir die sessies. Ek weet van een geval waar ’n persoon dit gebruik het as materiaal wat hy vir die groep kom aanbied het (die ander het nie boekies gehad nie). Dit het hy probeer ten spyte daarvan dat ons gesê het dat dit nie so kan werk nie. Dit het dan ook nie gewerk nie. Die mense het belangstelling verloor.
Aan die ander kant, getuig alle groepe wat dit as groepe saamdoen en self deur die materiaal werk, van groot verandering, nuwe insig en groei in hulle lewens.
Wat is die ideale grootte van ’n groep?
’n Groep kan bestaan uit enigiets van 2 tot 10 mense. Dis natuurlik nie onmoontlik om meer as 10 mense in ’n groep te akkomodeer nie, maar dan is dit feitlik seker dat sekere groeplede half gaan “wegraak” in die groep. Die groepleier sal dan moet seker maak dat hy of sy belangstelling toon in al die groeplede en aan almal aandag gee. Veral teruggetrokke mense moet soms direk gevra word oor hulle ervaring of siening van sake, anders sal hulle dit nie in ’n groot groep gee nie.
Is dit raadsaam om gemengde groepe (mans en vrouens) te hê?
My ervaring is wel dat dit beter is om gemengde as aparte groepe te hê. Veral as dit kom by getroude paartjies, is dit baie sinvol dat drie tot vyf paartjies dit saam doen. Mans is dikwels meer terughoudend by emosionele of geestelike sake. Die vrouens se groter openheid help dan baie om die groep se gesprek te stimuleer.
Daarmee saam moet ek ook se dat daar wel uitsonderinge is. Wanneer man en vrou byvoorbeeld huweliksprobleme het of deur ‘n moeilike tyd in hulle verhouding gaan, is dit beter om dit afsonderlik te doen.
Hoeveel tyd gaan dit van ons vra?
Dit vra wel meer tyd as ‘n normale kleingroep of sel omdat dit belangrik is dat mense voorbereid opdaag. Dit kan ook net werk as almal wat deel is van die proses bereid is om ’n hoë vlak van commitment te maak. Dit werk nie soos ’n selgroep waar mense sommer maar na willekeur kan wegbly as hulle die aand nie lus is om te gaan nie. Die sessies bou op mekaar en dis belangrik om so ver moontlik elke sessie by te woon.
Met so ’n commitment vra dit die volgende aan tyd. Aanvanklik een uur per week vir voorbereiding. Vanaf sessie 4 gaan dit ongeveer twee uur per week vir voorbereiding vra. Dit kan egter as deel van jou stiltetyd gedoen word, want dit is eintlik stiltetyd materiaal. Dan vra dit ook ten minste een-en-’n-half uur per week vir die groepsessie. Elke groep kan self besluit teen watter pas hulle deur die materiaal wil werk.
Is dit raadsaam om twee tot drie weke by een sessie stil te staan?
Aanvanklik mag dit soms nodig gewees het, maar ek het mettertyd die sessies korter gemaak en is van mening dat dit nou glad nie nodig behoort te wees nie. Onthou, die materiaal word nie in die groepsessie vir die eerste keer “deurgewerk en behandel” nie. Wanneer mense by die groep kom, het hulle alreeds die materiaal deeglik deurgegaan. Dit is nou die geleentheid om te deel wat julle ontdek het. Daarom beteken dit nie dat die sessie nie klaar is, as julle nie oor alles in die sessie gesels nie. Almal het dit mos klaar deurgewerk. Die belangrike is eerder om seker te maak dat julle oor die dinge gesels wat julle regtig tydens die voorbereiding aangespreek het. Op die wyse val die groep nie vas nie, maar beweeg aan. Sommige mense raak gefrustreerd as daar te lank stilgestaan word by elke sessie en daar die gevoel is dat die groep nie regtig vorder nie.
Dit is eerder meer voordelig om die materiaal later vir ’n tweede keer deur te gaan (nadat al die modules deurgewerk is).
Wat daarvan as daar groeplede is wat vanweë hulle werk nie al die sessies kan bywoon nie?
Dit gebeur gereeld dat daar mense is wie se werk hulle wegneem uit die dorp of stad. In sulke gevalle, laat ons dit wel toe dat hulle deel van ’n groep word, eerder as om dit glad nie te doen nie. Dit gaan net baie toewyding van die persone vra om seker te maak dat hulle bybly deur alle sessies deeglik deur te werk, ook die waarvan hulle nie die groepsessie kan bywoon nie. As hulle dus werklik die beginsels toepas waaroor dit gaan, kan hulle nog altyd deel in die pad van dissipelskap.
Hoe belangrik is die retraites as deel van die dissipelskap program?
Ek dink dit is van wesenlike belang. Daar is mense wat ongelukkig vanweë omstandighede nie die retraites kan bywoon nie. Hulle getuig ook van groei en groot verandering in hulle lewe. Maar almal wat wel die retraite bygewoon het, sê net onomwonde dat dit nie dieselfde kan wees daarsonder nie. Die punt is net dat ons daar die geleentheid gee om regtig met belangrike sake te gaan stil word voor God waarvoor geen mens net so in die gewone loop van die lewe die tyd kry nie. Ek self vind dit moeilik om te glo en te verstaan dat mense sê dat hulle dit nie kan inpas nie. Ek glo dat enige mens bereid is om tyd te maak vir dit wat vir jou werklik belangrik is (dink maar aan hoe sportmanne tyd maak vir die beoefening van hulle sport, of sommige mense vir hulle vakansies).
Niemand van ons word weggehou van ons vakansies of lang naweke as ons besluit om iewers heen te gaan nie. Ons ontsien ook nie die kostes daaraan verbonde nie, want ons glo dat ons dit nodig het. Nou, net so wil ek sê dat hierdie een lang naweek in jou lewe (waarvoor jy waarskynlik een dag verlof moet insit vir die eerste retraite), so ’n groot invloed kan uitoefen op die res van jou lewe, dat die waarde daarvan nie in geld bereken kan word nie. Doen dus gerus moeite om by ’n retraite uit te kom. As die groep waarvan jy deel is, nie ’n retraite reël nie, kontak my en vind uit wanneer ons retraites aanbied en probeer by een van hulle inskakel. Jy sal nooit spyt wees nie.
Wat doen die groep as hulle klaar is met al sewe modules?
Die materiaal is so opgestel dat die laaste sessie bietjie leiding hieroor gee. Die gedagte is dat mense met die verloop van die proses by God self duidelikheid sal kry oor wat die volgende stap is. Dissipelskap is ’n lewenswyse waar ons leer om by God antwoorde op ons vrae te kry. So indien mense se verhouding met God groei soos dit kan, behoort hulle teen daardie tyd te kan onderskei wat die volgende stap is. Dit kan moontlik wees as die leier van ’n nuwe dissipelskapgroep. Dit kan ook wees dat God uitwys dat die persoon een of ander bediening in die gemeente moet begin, of by betrokke moet raak. Die groep sou ook kon aangaan om as selgroep te funksioneer (as almal dit so verkies), of hulle kan by ander selgroepe inskakel.
My ervaring is dat die mense wat die meeste baat vind by die hele proses, is juis die wat die pad verder loop met ander mense en dit dan vir ’n tweede keer saam met die nuwe groep doen. Hierdie mense getuig altyd met groot verbasing van hoeveel hulle die tweede keer ontdek en raaksien wat hulle die eerste keer heeltemal gemis het. Die rede daarvoor is eintlik logies. Wanneer mens dit die eerste keer deurgaan, het jy dikwels nog soveel vrae en seer, dat jy nog nie oop of gereed is om sekere goed raak te sien of in te neem nie. Wanneer daar eers ’n groot klomp genesing plaasgevind het, is mens baie meer oop om nuwe opwindende waarhede te ontdek!
Watter resultate kan ons in die gemeente verwag?
Hierdie is alles behalwe nog ’n kitsoplossing vir ’n klompie probleme in ’n gemeente. Dit is ’n langtermyn proses van dissipelskap (of navolging van Christus). Daarom werk dit oor tyd heen deur in mens se lewens en die gemeente. Mens sien wel gewoonlik dadelik “resultate” en verandering by die mense wat besig is om die pad te loop. Mense begin spontaan te praat oor dit wat hulle van die Here leer, teenoor vriende en by die werk. Gewoonlik word ’n redelike persentasie van die mense wat deur die proses gaan, sterk leiers in die gemeente wat self baie inisiatief begin neem.
In die gemeente waar ek vroeer gedien het, het ons onder andere die volgende sien gebeur (ek het ook soortgelyke getuienisse van verskeie ander gemeentes gehoor):
Goed toegeruste en geestelik volwasse leiers in die gemeente, wat weet hoe om God se wil te onderskei.
Mense wat spontaan begin getuig het, sonder dat hulle eers deur een of ander “kursus moes leer hoe om te getuig.”
Die proses was “aansteeklik”. Dit was nie nodig om baie te adverteer nie. Dit wat mense spontaan met vriende gedeel het, het gelei dat meer mense dit graag wou doen.
Ons het ’n baie groot groep baie toegewyde jongmense (omdat ons die program ook vir studente aanbied).
Verskeie lidmate wat totaal onbetrokke was, het staatmakers in die gemeente geword. Sommige lidmate het nuwe bedieninge begin met baie groot vrug.
Van ons lidmate wat dit gedoen het en hiervandaan weggaan, kom in ander gemeentes en raak betrokke. Baie dikwels as leiers van dissipelskapgroepe. Op die manier is daar al in ’n hele klomp gemeentes begin met die dissipelskapproses.
Ek is egter oortuig daarvan dat baie min hiervan sou gebeur het as ons dit net vir ’n jaar of twee gedoen het en dan weer “iets anders” gesoek het wat moontlik ’n “kitsoplossing” kan wees vir ons “probleme”.
Gebedskaarte
Ons vra gewoonlik vir elke persoon wat deel word van die proses om vir twee of drie ander mense te begin bid. Mense vir wie hulle graag aan die proses sal wil bekend stel as hulle self daarmee klaar is, of deur dit self saam met hulle te doen, of deur dalk vir ’n familielid of vriend die eerste twee modules as geskenk te gee. Hulle hoef nie tydens die proses na die mense “uit te reik” of met hulle te probeer praat nie. Die gedagte is voorlopig dat hulle net gereeld vir die mense bid.
Nie die antwoord waarvoor jy gesoek het nie? Stuur vir ons ‘n boodskap vanaf ons “Kontak ons” blad.