Ek sien dit so dat elke mens geskep is om te leef as ‘n leerling (dissipel) van die lewende God. Ongelukkig het baie mense as gevolg van baie faktore vergeet wie hulle werklik is (dissipels van God). Daarom wil ek graag deur middel van die materiaal mense probeer help om weer te verstaan wie hulle is en wat dit inhou om as leerling van God te leef.
Die inhoud van die materiaal is grootliks gebore uit my eie reis van dissipelskap en lesse wat ek self by die Here geleer het. Dit het natuurlik ook heelwat leeswerk ingesluit. Ek maak dus nie aanspraak daarop dat alles wat ek deel “oorspronklik” is nie. Ek het by baie groot leermeesters geleer en gee ook erkenning aan hulle in die materiaal.
Dissipelskap is of kan nooit “afgehandel” word nie. Ek is nog steeds, elke dag, besig om meer te leer en te ontdek. Ook van myself. Daarom is ek nou op ‘n plek waar ek weer voel dat ek graag die materiaal sal wil hersien en hoop om binnekort daarmee te begin.
In die proses van geestelike begeleiding word daar van die veronderstelling uitgegaan dat God op pad is met elke mens. Elkeen van ons is op ’n reis, ons is nie maar net toevallig waar ons is nie. Op hierdie reis is God besig om in ons lewens te werk en vir ons te probeer duidelik maak wat sy wil vir ons lewens is. Deur middel van geestelike begeleiding word mense dan begelei om te leer onderskei waarmee God in hulle lewens besig is. Die kuns van dissipelskap, soos ek dit sien, is dan ook niks anders as juis dit nie, om te leer onderskei waarmee God besig is in jou lewe.
Met hierdie modules van dissipelskap, wil ons dan mense leer om hierdie vaardigheid te ontwikkel, om te kan raaksien en onderskei waarmee God in hulle lewens besig is. Wanneer mense leer om dit te doen, begin die lewe skielik meer sin te maak en begin mense ook hulleself en hulle eie rol hier op aarde beter verstaan. Om hiertoe te kan kom, is dit natuurlik van wesenlike belang om in ‘n lewende verhouding met God die Vader te leef van dag tot dag.
‘n Verhouding waarin en waardeur ek in toenemende mate God se Vaderliefde, sy goedheid, sy genade, sy omgee, sy versorging, sy troos, sy betrokkenheid by my lewe en sy leiding van dag tot dag leer ken en ervaar. Hierdie verhouding neem in aanvang wanneer ek gehoor gee aan Jesus se uitnodiging: “Volg my”. Ek word uitgenooi om, soos sy eerste dissipels, `n pad saam met Hom te stap. Sy eerste dissipels het gehoor gegee aan die roeping deur alles net so te los en Hom letterlik te volg. Gedurende hierdie tyd het hulle nie baie vir hom gedoen nie. Hulle het Hom net gevolg, oral waar Hy gegaan het. Terwyl hulle dit gedoen het, het hulle Hom dopgehou, na Hom geluister, van Hom geleer, Hom leer ken, tyd met Hom spandeer, met Hom gesels, gekyk wat Hy doen en hoe Hy dit doen. So is hulle “opgelei” om mense soos Hy te word, mense wat met dieselfde waardes en oortuigings as Hy leef. Na ongeveer drie jaar plus se opleiding, het Jesus hulle uitgestuur om uit te gaan en nou ook van ander mense dissipels te gaan maak, of ons kan ook sê om ander te gaan begelei om op dieselfde manier te leer lewe.
Ek glo van harte dat ons pad van dissipelskap vandag nog dieselfde roete volg. Wanneer ons Hom begin volg, moet ons ook net eers volg, luister, dophou, waarneem, gesels, tyd spandeer, leer en leer en nogmaals leer. Ons moet sommer net by Hom wees, Hom leer ken en bewonder, leer hoe Hy “dink”, hoe Hy mense sien, hoe Hy die wêreld sien, wat sy waardes en oortuigings is – sodat dit alles ook ons s’n kan word. Dis al manier waarop ons gaan leer onderskei waarmee God besig is, ook waarmee Hy in my eie lewe besig is. As ons dit getrou doen, sal ons ook op `n dag hoor: “soos die Vader my gestuur het, stuur ek ook nou vir jou”. Om sommer net uit te gaan en vir Hom te begin werk omdat jy graag “vir die Here wil werk”, voordat jy meer duidelikheid het oor wat jou eie “gestuur wees” behels, kan vir jou baie probleme bring en selfs groot seerkry veroorsaak. Iemand wat geleer het om in ‘n Dissipelskap verhouding met die Vader te leef, hoef nie te probeer om “vir die Here te werk” nie. God sal spontaan deur so ‘n persoon werk, waar hy of sy hulle ook al bevind. Hulle manier van lewe word dan ‘n bediening. Dit kan dan wel ook gebeur dat die Vader jou uitstuur om jou gawes op ‘n spesifieke plek of terrein te gaan uitleef. Dit sal jy egter net van bewus word as jy eers geleer het om na Hom te luister van dag tot dag.
Verder gaan dit ook van die siening uit dat emosionele gesondheid van groot belang is vir innerlike transformasie. In Modules 5 en 6 wil ons ook mense blootstel en begelei tot `n meer kontemplatiewe spiritualiteit. Ek glo dat beide hierdie aksente van wesenlike belang is vir die pad van dissipelskap. Wat hier beskryf word, is dus nie regtig ʼn “kursus” nie. Dit gaan eerder oor ʼn leefwyse wat aangeleer kan word in navolging van Christus. Mense wat dit doen, merk dan ook dikwels op: “Maar hierdie is nie ʼn kursus nie, dit gaan oor ʼn manier van lewe.” Dit kan ook beskryf word as ʼn reis. Elkeen van ons is op reis deur die lewe. Ons kan die reis op baie verskillende maniere aanpak. Die manier waarop Christus ons uitnooi om die reis te onderneem, is deur middel van navolging van Christus, of dan deur ʼn lewe van dissipelskap. Indien jy belang stel om jou reis op die manier te onderneem, kan jy gerus kyk hoe hierdie modules van die “Wese van Dissipelskap” jou daarmee kan help.
Ek kan maar net iets deel van dit wat onsself in ons eie gemeente ervaar het, en ook die getuienisse van ‘n paar mense insluit sodat hulleself kan sê wat dit vir hulle beteken het.
In ons gemeente het ons o.a. die volgende ervaar:
- Groter toewyding en betrokkenheid by diegene wat dit doen.
- Betekenisvolle geestelike- en emosionele groei.
- Toerusting van lidmate wat die spontane uitleef van hulle geloof tot gevolg het.
- Ontwikkeling van leierskap.
- Mense wat vanuit hulle gawes begin dien en vrywilliglik hulle dienste kom aanbied.
- Integrering van hulle Christelike oortuigings in hulle werk en ontspanning.
- Baie groter vreugde in die uitleef van hulle Christenskap.
- Baie groter bewussyn van die waardes van God se koninkryk wat mense “bevry” van die sogenaamde “ratrace”.
- Toegeruste lidmate wat weggaan van ons af en in ander gemeentes voortgaan om dissipels te maak.
Dis belangrik om te verstaan dat dit nie nodig is om aanvanklik vir mense te vra vir ’n “commitment” om al sewe modules deur te werk nie. Nooi hulle net uit vir die eerste jaar, maar stel dit duidelik dat dit prioriteit moet geniet binne die jaar. Hulle moet bereid wees om ander dinge af te sit ter wille daarvan, anders gaan dit nie veel help nie. As mense eers deel geword het van die proses, het hulle gewoonlik geen probleem om te commit vir die volgende modules nie.